Aanbid God in alle omstandighede

2023-08-11
Genesis 22:5 NLV

Verbeel jouself dat jy jou kind op ‘n altaar aan God moet opoffer, sonder dat God vir jou sê hoekom jy dit moet doen! Hier is wat Abraham vir die twee jong mans wat hom op die moeilikste reis van sy lewe vergesel het, gesê het: ‘Bly ‘n bietjie hier… Ek en die seun sal ‘n entjie verder gaan. Ons sal daar aanbid en dan [sal beide van ons!] terugkom.’ Abraham se toewyding aan God was onwrikbaar.

Bekommernis en aanbidding is heeltemal teenoorgesteldes van mekaar. Ons sal baie gelukkiger wees as ons leer om bidders eerder as kommerkouse te wees. Bekommernis maak ‘n gaping vir die Vyand om ons te treiter, maar aanbidding lei ons in God se teenwoordigheid in waar ons onfeilbare vrede, vreugde en hoop vind. Ons is geskep om God te aanbid (sien Openbaring 4:11). God is goed, selfs wanneer ons omstandighede nie is nie. Hou dus op om jou te bekommer, gee jou besorgdhede aan God oor en lewe in sy genade. Genade is nie net goddelike guns nie; dis krag en goddelike bevoegdheid!

Moenie nog ‘n dag van jou lewe mors deur jouself te bekommer nie. Bepaal wat jou rol is en wat dit nie is nie. Moenie probeer om God se verantwoordelikheid op jouself te neem nie. Wanneer jy doen wat jy kan doen, tree God in en doen wat jy nie kan doen nie. Gee jouself en jou bekommernisse aan God oor, aanbid Hom en begin om die oorvloedige lewe wat Hy vir jou voorsien, te geniet. Die oomblik wat jy agterkom dat jy besig is om jouself te bekommer, ontwrig jou verkeerde gedagtepatrone deur te sê: ‘Ek sal myself nie bekommer nie. Ek sal U aanbid, Here. U is goed en ek vertrou volkome op U.’

Sielskos: Deut 28-29; Mark 4:26-41; Ps 119:33-40; Spr 17:16