Laat hulle gaan!

2020-05-30
1 Johannes 2:19 NLV

Elke verhouding in jou lewe is daar vir ‘n rede en ‘n seisoen. Jou toewyding aan jou familie moet vir ‘n leeftyd duur; ander verhoudings mag dalk tydsbeperkings hê. Wanneer iemand kies om weg te loop, moenie hulle probeer ompraat om by jou te bly, jou lief te hê, jou te bel, vir jou om te gee, jou te kom sien of om geheg aan jou te bly nie. Jou lewensdoel hang nie van diegene wat jou verlaat het af nie. Johannes skryf: ‘Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.’ Mense verlaat jou, omdat hulle nie aan jou geheg is nie. As hulle nie aan jou geheg is nie, moet jy hulle nie probeer dwing om te bly nie. Dit beteken nie dat hulle slegte mense is nie; dit beteken net dat hulle deel in jou verhaal verby is. Jy moet weet wanneer ‘n verhouding verby is en met grasie tot siens sê, met die wete dat God die verhoudings wat Hy wil hê jy moet hê, sal voorsien. Nadat Lot hom verlaat het, het Abraham ‘n nuwe vlak van God se seën binnegegaan. Toe Orpa vir Naomi verlaat het en terug na Moab gegaan het, het Rut by haar gebly en is beide Naomi en Rut deur God geseën. Jy moet weet wie in jou lewe hoort en wie nie. As jy vandag aan iemand vasklou wat nie hoort nie en wat nie in jou lewe behoort te wees nie, is die woord vir jou vandag – laat hulle gaan!

Sielskos: 1 Kon 10-11; Mark 13:1-11; Ps 82; Spr 12:18-19