God en jou geld (3)
2020-05-20Hebreërs 4:16 NLV
Wanneer jy ‘n geestelike, fisiese, finansiële of verhoudingsbehoefte het, sê God dat Hy dit sal vervul. Sommige van ons vind dit egter moeilik om te glo. Jesus het immers die ryk man veroordeel wat die arm man wat by sy deur gesit het, geïgnoreer het. God het nie sy standpunt daaroor verander nie. Jesus het die verhaal vertel van ‘n man wat so besig was om geld te maak, dat hy nie tyd vir God gehad het nie. ‘Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Jy sal vannag nog sterf. Wie sal dan alles kry?’ Ja, ‘n mens is ‘n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ‘n ryk verhouding met God het nie’ (Lukas 12:20-21 NLV). Hy het ook nie sy standpunt hieroor verander nie. Jesus het die geldwisselaars uit die tempel uitgegooi omdat hulle die mense verkul het. Hy het sover gegaan as om hulle ‘n ‘rowersnes’ te noem (sien Markus 11:17 NLV). Beteken dit dat God aan ons geestelike behoeftes wil voldoen, maar nie aan ons materiële behoeftes nie? Kom ons wees duidelik: Jou geestelike behoeftes moet altyd jou eerste prioriteit wees, maar kom ons laat die Skrif toe om die vraag self te antwoord: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg’ (Matteus 6:31-33 NLV). Let op die woorde: ‘al hierdie ander dinge.’ As jy geregverdig voor God is, kan jy met vertroue bid en Hom vra om jou in alle dinge te seën!
Sielskos: Heb 1-4; Mark 10:13-22; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29