Soek goeie raadgewers
2020-04-19Spreuke 11:14 NLV
Om sukses in die lewe te behaal, het jy wyse en bevoegde mense, mense wat hulself reeds bewys het en wat jou kan help, rondom jou nodig. Wees egter gewaarsku: Die beste mense met die meeste kennis sal jou uitdaag, jou strek en jou sienswyse konfronteer! Dit beteken nie dat jy hulle moet vermy nie. Dis juis hoekom jy hulle nodig het! Jy moet oor jou vrees vir mense wat slimmer, talentvoller en meer ervare as jy is, kom en eerder van hulle leer. Ons word baie keer daarvan weerhou om bevoegde mense te nader, omdat ons onkundig voel wanneer ons rondom hulle is. Dis in orde om onkundig te wees – maar dis nie in orde om onkundig te bly nie! Moenie aanhou terughardloop na die bekende, middelmatige interaksies met mense wat jou nie uitdaag om te groei nie. Hoe meer jy nuwe areas in die lewe betree, hoe meer het jy ‘baie raadgewers’ nodig wat jou sal druk om meer te word as wat jy is, selfs al is dit aan die begin ongemaklik. Gaan waar hulle is, luister na wat hulle sê en evalueer hulle opinies. As jy jouself geestelik, emosioneel en finansieel wil opbou, moet jy buite jou gemaksone beweeg. As jy dit nie doen nie, sal jy nie die inligting hê om verby die bekende te beweeg en jou toekomsdrome te behaal nie. Net diegene wat bereid is om uitgedaag te word, bereik hulle drome. Onthou, die mense wat jy nodig het, is gewoonlik die besigste mense. Hulle sal oor die algemeen nie na jou uitreik nie, dus moet jy na hulle uitreik. Wees egter voorbereid; sommige van hulle sal jou aanbod van die hand wys, terwyl ander jou honger na wysheid en kennis sal herken, daarop sal reageer en jou sal help om sukses te behaal.
Sielskos: Matt 5:7; Matt 18:21-35; Ps 103:8-18; Klaagl 3:22-24