Gaan na jou ‘God plek’

2020-04-07
Genesis 19:27 NLV

Abraham het ‘n spesiale plek gehad waar hy God ontmoet het. Daniël het ook so ‘n plek gehad toe sy lewe in gevaar was: ‘…Hy het daar ‘n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ‘n dag op sy knieë gegaan om vir sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen’ (Daniël 6:11 NLV). Jesus het ook ‘n spesiale plek gehad: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Vestig ‘n ‘God plek’ in jou lewe. Wanneer probleme en druk dreig om jou te oorweldig, gaan na jou God plek toe. Wanneer jy leiding nodig het, gaan na jou God plek toe. Die gesangedigter, William Walford, het hierdie tydlose woorde geskryf: ‘Sweet hour of prayer! Sweet hour of prayer! That calls me from a world of care, and bids me at my Father’s throne make all my wants and wishes known. In seasons of distress and grief, my soul has often found relief; and oft escaped the tempter’s snare, by thy return, sweet hour of prayer!’ Jou God plek kan enige plek wees, maar dit moet net êrens wees. Nadat jy ‘n wyle daar vertoef het, sal ‘n tipe teenwoordigheid dit omring. Jy sal herinneringe van intieme tye met God daar skep. Dit sal jou heiligdom word, ‘n plek van toevlug en veiligheid. Dawid het geskryf: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Noem dit jou God plek, jou geheime plek, jou heiligdom of wat ook al, maar vestig so ‘n plek in jou lewe.

Sielskos: Lev 5-7; Matt 27:27-32; Ps 25:8-15; Spr 9:18