Wees toegewyd aan Christus
2020-01-291 Timoteus 4:15 NLV
Een dag het ‘n vriend van Chuck Swindoll by sy studeerkamer aangekom om hom in liefde aan te spreek (sien Efesiërs 4:15). Die man het gesê: ‘Ek dink nie jy sal moreel of eties val nie. Wat my bekommer is dat jy in die versoeking mag kom om toe te laat dat jou tyd met God en jou tyd wat jy aan die bestudering van die Skrif spandeer, al hoe minder belangrik vir jou word. Ek wil jou aanmoedig, moenie toelaat dat dit gebeur nie.’ Swindoll het sy woorde ter harte geneem en hierdie vyf beloftes aan homself neergeskryf. As jy ernstig daaroor is om toegewyd aan Christus te wees, moet jy ook hierdie beloftes aan jouself maak: ‘1) Ek beloof om aan te hou om oorspronklike en harde werk in my studeerkamer te doen. Diegene wat ek geroep is om te dien, verdien my beste pogings. 2) Ek beloof om ‘n hart vir God te onderhou. Dit beteken dat ek gereeld en vurig sal bid en toegewyd aan Hom en my roeping sal bly. 3) Ek beloof om toerekeningsvatbaar te bly. Dis nie net gevaarlik nie, maar ook onbybels om die lewe as ‘n godsdienstige alleenloper aan te pak. 4) Ek beloof om getrou aan my familie te wees. My vrou verdien my tyd, liefde en onverdeelde aandag. Ons volwasse kinders verdien dieselfde. 5) Ek beloof om net myself te wees. Om aan te hou lag en vreemde sêgoed te hê. Om ‘n vriend te wees en ‘n paar foute elke maand te maak.’ Om toegewyd aan Christus te wees maak jou nie vreemd, veroordelend, anti-sosiaal of geïsoleerd van die wêreld nie. Nee, dit maak jou die beste weergawe van jouself wat jy kan wees – en die een wat God wil hê jy moet wees.
Sielskos: Jes 17-21; Matt 10:32-42; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18