Sukses op God se terme
2019-08-22Deuteronomium 29:9 NLV
Twee mans was besig om te gesels toe een sê: ‘Weet jy wat die geheim tot sukses is?’ Die ander een het geantwoord: ‘Nee, wat is dit?’ Die eerste man het gesê: ‘Ek mag nie vir jou sê nie.’ ‘Hoekom nie?’ ‘Want dis ‘n geheim!’ Sukses, soos God dit definieer, is nie ‘n geheim nie. Hy sê herhaaldelik in sy Woord dat Hy wil hê dat ons suksesvol in die lewe moet wees. Net soos ons voorkoms egter verskil, so verskil God se plan vir sukses vir elkeen van ons. Sukses beteken eenvoudig dat jy God se wil vir jou lewe ontdek en dit doen. Dink aan hoë-definisie televisies (HDTV). Hierdie tegnologie maak ‘n bykomende honderd lyne resolusie op ‘n skerm moontlik, sodat die beeld feitlik lewensgetrou lyk. Die industrie noem dit ‘super helderheid.’ Of jy nou drie meter of ‘n halwe meter wegstaan, die beeld lyk heeltemal duidelik – geen lyne of skaduwees nie. Hoe sal ‘n suksesvolle lewe in hoë definisie lyk? Om daardie vlak van helderheid te kry, moet ons God se Woord bestudeer en uitvind hoe Hy oor sukses dink. ‘Daarom, wees gehoorsaam aan die voorwaardes van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen.’ Toe God die mens geskep het, was een van die eerste dinge wat Hy vir hom gesê het om te doen, om vrugbaar te wees en te vermeerder (sien Genesis 1:28). In die boek Job lees ons die volgende woorde: ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig’ (Job 8:7 NLV). Godgegewe sukses kom egter met ‘n voorwaarde wat ononderhandelbaar is: God sal jou seën – sodat jy ‘n seën vir ander mense kan wees.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Matt 20:17-28; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24