Hoe om probleme op te los (6)

2019-08-20
Johannes 16:33 NLV

Sesdens, moet jy jou probleme in perspektief probeer hou. Jy het seker al die gesegde gehoor: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In ‘n Peanuts strokiesprent, sien Snoopy hoe die familie om die tafel sit en aandete eet terwyl hy buite sy hondekos moet eet. ‘Kyk nou net,’ dink hy. ‘Almal eet lekker hoender, maar omdat ek ‘n hond is kry ek net hondekos.’ Dan vind hy skielik weer perspektief. ‘Natuurlik kon dinge erger gewees het – ek kon ‘n hoender gewees het!’ Dis gewoonlik ons perspektief wat bepaal hoe groot of moeilik ons probleem lyk. Die meeste moeilikheid waarvoor ons te staan kom is redelike onbeduidend in die groter prentjie. Wanneer ‘n vriend kanker kry of ‘n geliefde verloor, word ons herinner hoe kleinlik ons kwessies eintlik is. Die skrywer James Agee onthou hoe hy een keer ‘n gesprek met ‘n arm bejaarde vrou in die hartjie van die Appalache tydens die Groot Depressie aangeknoop het. Sy het in ‘n piepklein krot met grondvloere, geen elektrisiteit en geen binnenshuise riool, gewoon. ‘Wat sou jy doen,’ het hy gevra, ‘as iemand vir jou geld sou gee om jou te help?’ Die vrou het vir ‘n oomblik daaroor nagedink en geantwoord: ‘Ek sou dit seker vir die armes gee.’ Deur te besef dat daar mense rondom jou is wat baie groter probleme as jy het, bring dankbaarheid en perspektief mee. Jesus het gesê: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.’

Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Matt 19:15-30; Ps 119:121-128; Spr 18:13-20