Hoe om probleme op te los (5)

2019-08-19
Spreuke 16:9 NLV

Vyfdens, moenie net die probleem sien nie, wees ook op die uitkyk vir ‘n geleentheid. Toe president John Kennedy gevra is hoe hy ‘n oorlogsheld geword het, het hy geglimlag en geskerts: ‘Dit was maklik. Iemand het my boot gesink!’ Terwyl dit waar is dat sekere individue ‘n visie het en dit nastreef, is dit dikwels teenspoed wat die pad na sukses teer. Dit was die geval vir ‘n man wie se klein besigheid besig was om te misluk: ‘Ek het die balju vyf dollars ‘n dag betaal om die vonnis op my klein fabriek uit te stel. Toe het die man van die gasmaatskappy opgedaag en omdat ek nie my rekening kon betaal nie, het hy my gastoevoer afgesny. Ek was in die middel van baie belangrike eksperimente en dit het my so kwaad gemaak dat ek begin oplees het oor gastegnieke en besluit het om te probeer uitvind of elektrisiteit nie gebruik kon word om gas te vervang nie.’ Daardie man was Thomas Edison, die stigter van General Electric. Probleme wakker kreatiwiteit aan. As jy besluit om wakker te word en op te staan, sal probleme jou aanpor om jou Godgegewe vermoëns te gebruik, jou hulpbronne bymekaar te skraap en vorentoe te beweeg. Die waarheid is dat ons sonder sekere probleme in die verkeerde plek, saam met die verkeerde mense, besig met die verkeerde dinge, sal opeindig. “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming.” Uit pyn kom doelwitte en uit verwoesting kom rigting. Praat dus met God oor jou probleem; laat Hom toe om jou die potensiaal wat dit inhou en dit wat Hy vir jou in gedagte het, te wys.

Sielskos: Gal 4-6; Matt 19:1-14; Ps 119:113-120; Spr 18:10-12