God se teenwoordigheid maak die verskil
2019-08-03Eksodus 33:16 ABA
Die wêreld verwag dat Christene anders sal wees as diegene wat nie bely dat hulle Jesus ken nie. Dis hoe dit moet wees. Gelowiges moet ‘n voorbeeld stel deur ander te dien en liefde aan hulle te bewys. Jesus het gesê: ‘As julle liefde teenoor mekaar beoefen, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is’ (Johannes 13:35 NLV). Toe die Israeliete in die Ou Testament God se verbond verbreek het deur die goue kalf te aanbid, het Moses by God gepleit om hulle nie te verlaat nie. ‘Hoe sal ons weet dat U tevrede is met ons, met my en met u volk, as U nie met ons saamgaan nie? Ek en u volk sal weet ons is anders as al die volke op die aarde as U self saam met ons gaan.’ Wat Israel uniek gemaak het, was die bewyse van God se teenwoordigheid soos Hy saam met hulle gereis het. God se teenwoordigheid moet ook jou uniek maak! Toe Jesus vir sy dissipels gesê het: ‘…Ek is vir altyd by julle…’ (Matteus 28:20 NLV), het Hy sy teenwoordigheid deur die Heilige Gees wat binne in hulle woon en hulle bemagtig, gedemonstreer. Soveel so, dat hulle vyande gesê het dat hulle ‘…die hele wêreld in beroering bring…’ (Handelinge 17:6 NLV). Soos pastoor Mark D. Roberts egter opmerk: ‘Dit gee ons nie rede om trots te wees of te spog nie. God se teenwoordigheid is ‘n uitdrukking van sy genade, nie van ons waardigheid nie. Dit gee ons die moed om volgens sy koninkryk te leef en om ander in sy naam te dien. As God aan ons kant is, wat moet ons dan vrees?’ Dank God dus vandag vir sy teenwoordigheid in jou lewe en besluit om dit nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Matt 14:1-12; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6