Bly deel van die spel totdat dit verby is
2019-07-03Psalm 27:1 NLV
Die skrywer Jon Gordon sê: ‘Daar was ‘n tyd [toe ons kinders was] wat ons van die klimraam afgespring het en op wipwaentjieritte gegaan het. Geen doelwit was onbereikbaar nie. Toe ons egter grootword, het die twyfelaars ons van ons drome laat afsien. ‘Jy’s mal… dis te moeilik… wees veilig… drome is nie vir mense soos ons bedoel nie.’ Hulle het onsekerheid in ons teweeggebring. Wanneer so baie mense sê dat ons nie kan nie, laat ons vrees in ons lewens toe. Ons is so bang om dit wat ons het te verloor, dat ons nie dit wat ons wil hê najaag nie. Ek noem dit ‘speel om te verloor.’ Ons sien dit in sport. Wanneer ‘n span die voortou neem, begin hulle dink hoe om nie te verloor nie. Hulle speel versigtig en is bang, terwyl die ander span kanse benut, sonder vrees speel en op die ou einde wen. Dawid het gesê: ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’ Wanneer jy ‘n lewe van geloof lei, beteken dit dat jy begin speel om te wen. Selfs wanneer jy misluk, gee jy nie op nie en jy laat nie jou drome sterf nie. Sukses word nie outomaties aan ons gegee nie, dit moet met al jou energie en sweet nagestreef word. Struikelblokke is deel van die lewe; hulle laat ons toe om sukses te geniet. As alles maklik gekom het, sou ons nooit geweet het hoe dit voel om sukses te behaal nie. Struikelblokke is bedoel om oorkom te word. Vrees is bedoel om oorwin te word. Sukses is bedoel om bereik te word. Dis deel van die lewe en diegene wat sukses behaal, weier om op te gee totdat die spel verby is.’
Sielskos: Jer 45-48; Matt 6:9-18; Ps 110; Spr 15:8-9