Neem beheer van jou gedagtes

2019-04-27
Filippense 4:8 ABA

Die Bybel sê: ‘Satan het reeds in Judas… ingevaar. Hy het weggegaan om te onderhandel met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer’ (Lukas 22:3-4 NLV). Dit kom voor asof Judas altyd besig was om aan geld te dink en Satan het dit tot sy vernietiging uitgebuit. Gedurende die drie jaar wat Judas vir Jesus gevolg het, het Hy hom meermale oor die gevaar om geld lief te hê, gewaarsku. Jou gedagtes hou nooit op werk nie en as jy nie beheer daarvan neem nie, sal dit jou begin beheer. Paulus skryf: ‘Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees.’ Wat jy word, is ‘n direkte gevolg van dit waarop jou gedagtes gefokus is. Ralph Waldo Emerson het gesê: ‘Die lewe bestaan uit dit wat ‘n man [of vrou] heeldag aan dink.’ John Locke het gesê: ‘Die aksies van mans [of vrouens] is die grootste interpreteerders van hulle gedagtes.’ James Allen het gesê: ‘Jy is vandag waar jou gedagtes jou gebring het. Jy sal môre wees waar jou gedagtes jou heen vat.’ Dis hoekom die apostel Petrus ons waarsku: ‘…Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe’ (1 Petrus 1:13 NLV). Dis hoekom die Psalmdigter geskryf het: ‘…bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie… Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:14-15 NLV). Let die woorde ‘gedagtes van my hart’ op. Die woord vir jou vandag is: Neem beheer van jou gedagtes.

Sielskos: Num 11-13; Mark 2:18-28; Ps 2; Spr 10:30-32