Gee oor aan God (3)

2019-03-16
Psalm 143:10 NLV

Jy ontvang krag deur die daad van oorgawe, wat jy op geen ander manier kan ontvang nie. Jy ontvang vryheid deur oorgawe, wat jy andersins nooit sal ken nie. Die 12-Stap program vir herstel bied ‘n pad na vryheid vir verslaafdes aan. By die kern van die twaalf stappe lê daar egter ‘n groot paradoks: In watter een van die twaalf stappe sê dit, ‘Probeer nou rêrig hard om nie te drink nie’? In watter van die twaalf stappe sê dit, ‘Besluit nou om nie te drink nie’? Wonderbaarlik vra hierdie kragtige metode teen ons magtigste verslawings, nooit vir mense om te besluit om dit wat hulle lewens vernietig, op te hou doen nie. In plaas daarvan om die wil te mobiliseer, gee hulle volgelinge hul wil aan God oor. As jy die probleem deur jou wil probeer oorkom, sal dit jou verslaan. As jy egter jou wil aan God oorgee, word verlossing moontlik. Oorgawe, wat ons dink ‘n nederlaag beteken, is op die ou einde die enigste pad na oorwinning toe. Dis nie net die geval met alkohol en dwelms nie, maar met sonde in die algemeen. Hoekom misluk ons wil? Die handleiding van Alkoholiste Anoniem sê dat wanneer dit by alkohol kom, sê en voel ons ‘nooit weer nie.’ Ons doen dit egter weer. Hoekom? ‘Ons is op sekere tye nie in staat om met genoegsame krag die herinnering van die lyding en vernedering van selfs net ‘n week gelede in ons gedagtes op te roep nie. Die sekere nagevolge wat met die drink van alkohol gepaard gaan, skrik ons nie af nie. As hierdie gedagtes plaasvind, is hulle wasig en word hulle maklik met die ou verslete gedagte dat ons dit hierdie keer self kan hanteer, vervang.’ Die woord vir jou vandag is dus: Gee oor aan God.

Sielskos: Job 18-20; Luk 18:1-17; Ps 116:1-11; Spr 8:8-9