Sommige mense kan nie gehelp word nie (2)
2019-03-09Sagaria 7:11 NLV
Aanvaar dit maar – sommige mense is eenvoudig nie gereed om te verander nie! Hulle sal jou tyd en energie opeis, maar op die ou einde nie bereid wees om die prys vir vooruitgang te betaal nie. Wie is hierdie mense? 1) Mense wat wil praat, maar nie wil luister nie. Jakobus sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself’ (Jakobus 1:22 NLV). In plaas van om eindeloos daarna te strewe om aan ander mense se behoeftes te voldoen, probeer hulle aan die Een koppel wat dit kan doen. Hulle moet van die Here afhanklik wees, nie van jou nie. 2) Mense wat dink dat jy nie gekwalifiseerd genoeg is om hulle te help nie. Jesus is nie deur die wêreld aanvaar nie en tog was Hy die presiese persoon wat hulle nodig gehad het (sien Johannes 1:11-12). Wanneer mense onwillig is om jou hulp en raad te aanvaar, is die kans goed dat hulle nie gereed is om te groei en hulle probleme aan te pak nie. 3) Mense wat dit wat jy het, wil hê, maar nie dit wat jy weet nie. Hierdie mense wil gered word, maar nie opgelei word nie; getroos word, maar nie reggehelp word nie. Wanneer jy aanhou om hulle uit hulle gemors te help, in plaas daarvan om hulle te leer hoe om te leef, help jy hulle nie regtig nie. Dawid het gesê: ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:71 NLV). Dikwels moet mense eers die pyn van dit wat verkeerd is ervaar, voordat hulle die wysheid van dit wat reg is, kan waardeer. Wees dus oordeelkundig wanneer jy mense help.
Sielskos: Eks 39-40; Luk 15:11-32; Ps 135; Spr 7:21-23