Maak hulle reg groot
2019-01-24Spreuke 29:17 NLV
As ‘n gedissiplineerde kind vir jou rus gee, sal ‘n ongedissiplineerde kind jou geen rus toelaat nie. Jy kan hulle nêrens heen vat nie of hulle nêrens los nie. Salomo sê: ‘Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer’ (Spreuke 13:24 NLV). Kindermishandeling is laakbaar – maar so ook kinderverwaarlosing. Sonder dissipline, kondisioneer jy jou kind vir ‘n lewe van seerkry. Wanneer hulle deur die polisie afgetrek word of deur die bank gekontak word omdat hulle nie hulle lening terugbetaal het nie, gaan ‘n woedeaanval hulle niks help nie. Dink asseblief aan hulle toekoms! God dissiplineer sy kinders; is jy slimmer as wat Hy is? Die Bybel sê, ‘…Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte. Iemand wat sy les uit die straf geleer het, sal ‘n mens word wat doen wat God wil hê en daarom in vrede leef’ (Hebreërs 12:11 DB). ‘n Tweejarige wat ‘Nee!’ skree mag dalk vandag oulik wees, maar wag tot hy sewentien is en jou soos ‘n dronk matroos vloek. Die Bybel sê, ‘Astrantheid is eie aan ‘n seun; ‘n pak slae haal dit uit hom uit’ (Spreuke 22:15 NLV). Rebellie is deel van hulle DNA en dis jou werk om daarvan ontslae te raak. Ja, dis moeilik om hulle te dissiplineer wanneer jou tyd met hulle so beperk is, maar hulle toekoms is in jou hande. ‘n Kind sonder grense is soos ‘n huis sonder mure; daar is geen beskerming teen eksterne invloede nie. Niemand voel veilig nie. Praat dus vandag met God. Hy is ‘n vader – Hy het kinders van sy eie en Hy sal jou help om joune reg groot te maak.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 5:27-39; Ps 100; Spr 3:7-8