Ontvang van God
2019-01-14Markus 11:23 NLV
Jy moet drie dinge doen om dit wat God in sy Woord belowe het, te ontvang. Eerstens, neem ‘n besluit. Vat sy belofte vas en moenie laat gaan nie. God reageer op ‘n geloof wat uithou en ‘n besluit wat geneem is: ‘…by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV). Die voormalige bofbalster, Sam Ewing, het gesê: ‘Niks is so vernederend soos om toe te kyk hoe iemand iets doen wat jy gesê het nie gedoen kan word nie.’ Tweedens, visualiseer jou oorwinning. Voor konstruksie begin, het die argitek reeds die eindresultaat in sy of haar gedagtes gesien. Deur geloof het Abraham sy kinders ‘gesien’; hy het hulle elke keer getel wanneer hy na die sterre opgekyk het (sien Genesis 15:5). Gebruik jou geheue om weer oorwinnings in die verlede te sien en gebruik jou verbeelding om toekomstige oorwinnings te sien. Dis wat Dawid gedoen het toe hy Goliat verslaan het. Jy moet jou reus in die gesig kyk en verklaar: ‘In die Naam van die Here gaan jy val.’ Derdens, spreek tot jou situasie. Jesus het gesê: ‘… Julle moet geloof in God hê. Dit verseker ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie’ (Markus 11:22-23 NLV). Moenie net oor jou berg praat nie, praat met hom! Maak seker dat dit wat jy sê, in lyn met God se Woord is. Maak sy Woorde jou woorde en die berg sal jou slaaf word. Hy moet – want Jesus het so gesê!
Sielskos: Jes 42-44; Luk 2:41-52; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8