Is jy by breekpunt?

2018-12-05
1 Petrus 5:7 NLV

In die fliek Limitless, ontdek die akteur Bradley Cooper ‘n wonderpil wat die totale kapasiteit van sy brein oopmaak. Hy kan tale en komplekse wiskunde in ‘n fraksie van die tyd wat dit normale mense neem, leer. Hy kan amper alles wat hy lees of sien onthou. Hy kan vinniger en meer in-diepte as die beste finansiële ghoeroes analiseer. Hy is onbeperk. Hy gebruik dan sy vermoë om miljoene dollars te verdien en groot sukses te behaal. Jy dink seker, ‘Waar kan ek van daai pille in die hande kry?’ Vandag ervaar meer as 50 persent van mense stres oor hulle verhoudings. Meer as 60 persent word deur hulle werk uitgestres. Meer as 70 persent stres oor geld. As dit op jou van toepassing is, is die woord vir jou vandag: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Jy sê, ‘As jy my skedule kan sien, sal jy verstaan hoekom ek by breekpunt is.’ Wie bepaal elke dag jou skedule? Een van drie mense sal dit doen. Of iemand anders sal jou skedule bepaal, óf jy sal dit self bepaal, óf jy kan na God toe gaan en Hom vra om jou skedule te bepaal. Een van die redes hoekom God ons toelaat om breekpunt te bereik, is om ons te forseer om na Hom vir leiding, krag en rigting te gaan. Daar is oorgenoeg in die lewe wat jy nie kan hanteer nie, maar daar is niks in die lewe wat jy en God nie saam kan hanteer nie. Die geheim lê daarin om slegs die goed wat God wil hê jy moet hanteer, te hanteer, en die res aan Hom toe te vertrou.

Sielskos: Gen 32-34; Joh 16:1-18; Ps 130; Spr 31:28-31