Dis ‘n interne belewenis (4)
2018-12-04Romeine 8:26 NLV
Die twee pilare van ‘n gelowige se daaglikse lewe behoort gebed en Skriflesing te wees. Terwyl gebed eenvoudig mag wees, is dit nie altyd maklik nie. Ons het nie die motivering nie, ons aandag word maklik afgelei en ons is nie altyd seker waarvoor ons moet bid nie. God sien ons menslike ontoereikendheid raak en ‘help’ ons deur sy inwonende Heilige Gees: ‘…die Gees neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God… weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (verse 26-27 NLV). Dit beteken dat dit nie saak maak hoe jy voel wanneer jy bid nie, die Heilige Gees bid saam met jou en vir jou; en transformeer jou swakste gebed in ‘n kragtige beroep op die Vader. Wanneer dit by die tweede pilaar kom, naamlik die Woord van God, is die Heilige Gees se rol net so dinamies. Jesus het gesê, ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Die Heilige Gees doen dus drie dinge: 1) Hy lei jou wanneer jy die Woord van God bestudeer en dit wil verstaan. 2) Hy neem dit wat Jesus wil hê jy moet weet en openbaar dit aan jou. 3) Hy maak jou begrip oor dinge wat nog gaan gebeur, oop. Goeie naslaanwerke, Skrif-gebaseerde hulpbronne en vaardige Bybelonderwysers kan verseker behulpsaam wees, maar hulle is nie ‘n plaasvervanger wanneer dit by die aanhoor van die Heilige Gees en die versigtige luister na wat Hy vir jou wil sê, kom nie.
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 31:25-27