Soek ‘n ware vriend
2018-11-27Spreuke 18:24 NLV
Een dag het twee koeie oor ‘n heining gekyk en die volgende woorde op ‘n verbygaande melktrok gesien: ‘Gepasteuriseerd, Gehomogeniseerd, Vitamiene A bygevoeg.’ Een koei het vir die ander koei gesê, ‘Dit laat mens bietjie onvoldoende voel, nie waar nie?’ Is dit hoe jy vandag voel? Daar is soveel om te doen en nie genoeg van jou om dit te doen nie? Of jy dink dat jy nie die vermoë en hulpbronne het nie? Onthou die ou Beatles liedjie: ‘When I was younger, so much younger than today, I never needed anybody’s help in any way…Help me if you can, I’m feeling down, and I do appreciate you being round. Help me get my feet back on the ground; won’t you please, please help me?’ Selfs in ‘n perfekte wêreld kon Adam nie op sy eie regkom nie, dus het God gesê, ‘…Ek sal vir hom ‘n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help’ (Genesis 2:18 NLV). Soms vereis die oplossing meer as gebed of berading; dit verg ‘n vriend wat verstaan – veral een wat al dieselfde gevegte geveg en gewen het. In Handelinge hoofstuk drie het God vir Petrus en Johannes gebruik om ‘n verlamde man wat by die tempelpoort gesit het, te genees. Daar het egter ‘n ander wonderwerk vroeër gebeur. Petrus het vir Jesus verloën, plat op sy gesig geval en na sy ou vissermanswerk teruggekeer. Johannes het egter geweier om hom te laat gaan. Gevolglik is Petrus herstel, ‘n verlamde man is genees en drie duisend mense is vir Christus gewen. Jy het nie baie mense in jou lewe nodig nie; jy het net die regte mense nodig. Vra dus vir God vir ‘n ware vriend wat aan jou sy sal bly; en doen dan dieselfde vir iemand anders.
Sielskos: Gen 13-16; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 31:1-5