Jesus wil jou vrymaak

2018-10-01
Johannes 8:31-32 NLV

Probeer jy ‘n slegte gewoonte afsweer? Jesus wil jou daarvan vrymaak. ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ Jy vra, ‘Wat is hierdie ‘waarheid’ wat my sal vrymaak?’ Jesus antwoord: ‘As [jy] in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef.’ Oorwinning word in jou gedagtes bewerkstellig en onderhou. Een dame het gegrap, ‘Dis maklik om op te hou rook; ek het dit al duisend keer gedoen.’ Op ‘n ernstiger noot, hoe kan jy ophou om na ou gewoontes terug te keer? Deur jou van hulle te bekeer, hulle te verwerp en die ou gedagtes wat jou na die gewoonte teruglei met nuwe gedagtes te vervang. Waar kom hierdie nuwe gedagtes vandaan? Jesus antwoord, ‘As jy in noue verbintenis aan my boodskap leef.’ Dit beteken dat jy moet wegbly van plekke wat verkeerde gedagtes kweek en wegbly van mense wat verkeerde gedagtes aanmoedig. Dit mag dalk beteken dat jy dit wat jy op televisie kyk moet verander. Jy sal agterkom dat voordat jy voor ‘n slegte gewoonte swig, jy die gedagtes dink wat daartoe lei. Die Bybel sê, ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). In die vroeë stadiums van herstel van enige verslawing is dit krities om jou gedagtes daagliks met die Skrif te versadig, te bid en gewillig te wees om uit te reik na ‘n vriend se ondersteuning (sien Prediker 4:9-10). Sal jy soms op die pad na sukses misluk? Ja. Oorwinning begin egter wanneer jy besluit om vry te wees en glo dat God jou sal vrymaak.

Sielskos: 1 Kor 4-6; Luk 23:44-56; Ps 13; Spr 25:4-8