Toets die grond van jou hart
2018-09-21Markus 4:14 NLV
In Jesus se vergelyking van die saaier, het die saad op vier tipes grond geval en vier verskillende resultate geproduseer. ‘Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, verteenwoordig die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, verteenwoordig die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ‘n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, verteenwoordig die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die Woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ‘n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is’ (verse 15-20 NLV). Die sade van God se Woord kan nie faal nie: ‘…dit sal… die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). Indien God se beloftes nie in jou lewe vervul word nie, moet jy jouself afvra, ‘Watter tipe grond is ek?’ Is jy ‘n voetpaadjie mens – met ‘n dun vel wat maklik aanstoot neem? ‘n Klipperige persoon met geen geestelike wortelsisteem nie? Is jou grond vol dorings? Word die geestelike lewe in jou hart verstik? Of is jy ryk, vrugbare grond wat resultate produseer? Toets die grond van jou hart.
Sielskos: Miga 5-7; Luk 22:39-53; Ps 24; Spr 24:15-18