Vertrou jou voorstaander, nie jou aanklaer nie (1)
2018-05-07Openbaring 12:10 NLV
Die apostel Johannes het geskryf: “Toe het ek ‘n kragtige stem in die hemel hoor sê: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het'” (vers 10 NLV). Satan het net een doel: ‘Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Hy sal jou vrede steel, jou drome vernietig en jou toekoms verwoes. Hy neem mense in diens om sy gif te smokkel. Vriende onthou jou verlede. Predikers verkonding alle skuld en geen genade nie. Sommige ouers versprei dit vier-en-twintig uur ‘n dag. Lank reeds in volwassenheid hoor jy nog hulle stemme: ‘Hoekom kan jy nie groot word nie?’ ‘Wanneer gaan jy my begin trots maak?’ Wat is die antwoord? Jesus! Hy ‘… het nou die heel belangrikste posisie in die hemel. Daarom kan Hy nou ons saak by God suksesvol verdedig’ (Romeine 8:34 DB). In die teenwoordigheid van God, in uitdaging van Satan, staan Jesus Christus in verdediging van jou op. Hy neem die rol van ‘n priester aan. ‘Wat meer is, ons het ‘n groot priester wat toesig hou oor die huis van God. Kom ons gaan dan die heiligheid binne, ja, tot voor God, met ‘n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte gesuiwer is van ‘n skuldige gewete…’ (Hebreërs 10:21-22 NLV). ‘n Skoon gewete. ‘n Skoon hart. Vry van beskuldiging – vry van veroordeling. Nie net van ons foute in die verlede nie, maar ook van ons toekomstige foute. ‘Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd’ (Hebreërs 7:25 DB). Moet dus nie na jou aanklaer luister nie – vertrou jou voorstaander!
Sielskos: Deut 11-13; Mark 6:45-56; Ps 37:16-24; Spr 11:30-31