Jabes (4)
2018-05-041 Kronieke 4:10 NLV
Nie net het Jabes groot ambisie gehad nie, hy het ook ‘n groeiende geloof en ‘n diepe vertroue in God gehad. Hy het genoeg geloof gehad om te bid en ‘n antwoord te verwag. Hy was soos die sendeling William Carey wat gesê het, ‘Verwag groot dinge van God en probeer groot dinge vir God.’ Daar word nie genoem dat Jabes enige spesiale vaardighede of talente gehad het nie. Die Bybel sê nie dat hy ryk of opgevoed was nie. Hy was eenvoudig ‘n gewone man met ‘n ongewone geloof. Moenie bekommerd wees oor dit wat jy nie het nie – mits jy geloof het! God sal aan jou die nodige krag voorsien. Hy is lief daarvoor om gewone mense wat gewillig is om Hom te vertrou te gebruik en te sien hoe hulle sukses behaal. Baie mense met groot talente sit op die kantlyn terwyl gewone mense met geloof die doele skop en wen. Nog ‘n interessante feit is dat Jabes glo een of ander tipe gestremdheid of agterstand gehad het. ‘Jabes’ beteken ‘pynlik’ in Hebreeus. Jabes het sy ma soveel moeilikheid tydens geboorte gegee dat sy hom ‘Pynlik’ genoem het. Hoe sal jy daarvan hou om met so ‘n naam deur die lewe te gaan? Hy mag dalk ongewens en ongeliefd gewees het. Hy was egter sterker as sy gestremdheid en sy geloof het hom aangespoor. Sy oë was op die toekoms gerig, nie op die verlede nie. Hy het geglo dat as God hom seën, sy toekoms beter as sy verlede sal wees. Wat is jou agterstand? Is dit fisies? Is dit geestelik? Is dit ‘n ongelukkige kindertyd? Is dit ‘n frustrerende werk of ‘n gebroke huwelik? Wat dit ook al mag wees, Jesus het gesê, ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (Markus 9:23 NLV).
Sielskos: Deut 5-7; Mark 6:14-29; Ps 37:1-7; Spr 11:24-26