Neem tyd vir rus en herstel

2026-10-01
Jesaja 40:31 NLV

Wanneer jy moeg voel, sê dit vir jou: 1) dat jou liggaam rus nodig het, 2) dat jy die lewe teen ‘n stadiger tempo moet benader, en 3) dat jy tyd moet neem om in die teenwoordigheid van God te vertoef. God het op die sewende dag gerus (sien Genesis 2:2). God – die Een wat alle dinge oortref, alle dinge weet en alle mag het – het gerus! Wat laat jou dink dat jy nie rus nodig het nie? As jy daaraan gewoond is om altyd aan die gang te wees, sal dit moeilik wees om selfs vir ‘n paar uur nie te werk nie.

Rus is egter ‘n geheime wapen wat God jou gegee het om jou te help om die vyand te verslaan. Wanneer jy uitgeput is, is jy van min nut vir God of enigiemand anders. Dit is een van die hoofredes waarom Satan jou hiernatoe en daarnatoe laat hardloop. As hy jou nie met verslawing, verkeerde verhoudings en slegte gewoontes kan versoek nie, sal hy jou met ‘n besige skedule versoek. Hy wil hê jy moet jouself uitput sodat wanneer die ware stryd aanbreek, jy te moeg sal wees om weerstand te bied.

Johannes het geskryf: ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes 2 NLV). Jou siel floreer nie wanneer jy uitgeput en in alle rigtings getrek word, met min tyd vir rus of herstel, nie. Wat staan jou dus te doen? Lê jou skedule, insluitend enige nuwe projekte, voor Jesus se voete neer. Wag vir sy leiding. Staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’

Sielskos: 2 Kor 5-8; Mark 16:9-20; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20