Wandel in geloof

2024-10-28
2 Korintiërs 5:7 NLV

Impalas is een van die kragtigste diere in Afrika. Hulle kan hoër as drie meter spring en ‘n afstand van meer as nege meter in een sprong aflê. Tog kan die impala in ‘n kamp met ‘n heining wat nie meer as drie meter hoog is nie, aangehou word. Hoekom? Omdat die impala nie sal spring as hy nie kan sien waar sy voete gaan land nie. In ‘n sin wandel impalas deur sig, nie geloof nie.

Wat beteken dit om te ‘wandel’? Om een voet voor die ander te sit en deur een tree op ‘n slag aan te hou om vorentoe te beweeg. Wat beteken dit om ‘geloof’ te hê? Om die Here te vertrou en sy Woord te gehoorsaam, maak nie saak hoe dinge vir jou lyk of voel nie. Geloof doen nie met intelligente denke en rede weg nie. Daar is egter ‘n verskil.

Wanneer intelligente denke en rede jou nie nog ‘n tree verder kan neem nie, hou geloof reguit aan vorentoe beweeg. Hoekom? Omdat intelligente denke en rede die hand van die mensdom wat uiteindelik in ‘n doodloopstraat beland, vashou, terwyl geloof die hand van God vashou, die God wat ‘n pad maak waar dit lyk asof daar geen pad is nie.

Dit was Abraham se verhaal: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Is jy angstig oor die toekoms? Moenie wees nie; neem net die volgende tree in geloof, en jy sal een tree nader aan die seëninge en belonings wat God vir jou in gedagte het, wees.

Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:35-51; Ps 98; Spr 27:23-24