Nie geregtigheid nie, maar genade

2024-10-25
1 Johannes 2:1 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat sy foto laat neem het. Toe hy dit sien, het hy vir die fotograaf gesê: ‘Hierdie foto laat nie reg aan my geskied nie!’ Die fotograaf het na hom gekyk, geglimlag en gesê: ‘Met ‘n gesig soos joune het jy nie geregtigheid nodig nie; jy het genade en medelye nodig!’ Dis die situasie waarin ons ons almal bevind. Die rede hoekom God genade en medelye aan ons bewys, is omdat Jesus namens ons aan al die eise van God se geregtigheid aan die kruis voldoen het.

Sommige mense dink dat God se genade (onverdiende guns) versoening doen vir al jou sondes, tot op die oomblik wat jy Christus jou Verlosser maak. Daarna moet jy dit verdien en deur jou optrede bewys dat jy dit waardig is. In plaas daarvan om dus alleenlik op Christus se optrede aan die kruis te vertrou, vertrou hulle ook op hul eie optrede. Hier is egter die probleem: As om hemel toe te gaan daarvan afhang dat jy elke liewe verkeerde gedagte en daad onthou en dit bely, wat gebeur dan as jy een van hulle vergeet?

Jy hoef dit egter nie met jou optrede te verdien nie. God het dit alles onder beheer! ‘As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom’ (verse 1-2 NLV). Net een persoon voldoen aan God se standaarde: Jesus! Wanneer jy jou vertroue in Hom plaas, word jy onvoorwaardelik deur God aanvaar en het Hy jou onvoorwaardelik lief.

Sielskos: Jes 8-11; Joh 6:1-24; Ps 126; Spr 27:17-19