Wanneer God die deur oopmaak (2)
2024-10-211 Korintiërs 16:9 NLV
Paulus skryf: ‘Intussen bly ek in Efese tot Pinkster, want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (verse 8-9 NLV). Wanneer jy die wil van God doen, moet jy teenstand verwag van diegene wat nie insae het in wat God met jou gedeel het of die opdrag wat Hy vir jou gegee het om te doen nie. Inderdaad, as jy aanvaar en toegejuig word waar jy ook al gaan, moet jy óf die opdrag wat jy glo God vir jou gegee het, óf die manier waarop jy dit uitvoer, heroorweeg.
Jy sê: ‘Maar het Jesus nie gesê dat sy juk lig is nie?’ Ja, maar Hy het gepraat van ‘n juk wat gemaklik om die nek van die hardwerkende os sit, wat van vroeg tot laat ploeg. Dit beteken dat wanneer God jou roep om iets moeiliks te doen, Hy jou van die genade en hulpbronne wat daarvoor nodig is, sal voorsien. Jy sê: ‘Maar Satan val my aan.’ Aanval is ‘n teken van respek; dit beteken dat jy ‘n bedreiging vir die koninkryk van duisternis verteenwoordig. Soos jy nader aan jou Godgegewe doel beweeg, moet jy verwag dat Satan se aanval gaan vererger. Daar is egter goeie nuus. Die intensiteit van die aanval is ‘n aanduiding van die seën wat God vir jou aan die ander kant van die aanval het.
Jou grootste beloning sal jy nie in hierdie lewe ontvang nie, maar in die lewe wat nog kom. Dis goed omdat hierdie beloning nie net tydelik sal wees nie, maar ewig. Daar is ‘n gesang wat lui: ‘To him that overcometh a crown of life shall be; He with the King of glory shall reign eternally.’
Sielskos: Eks 36-38; Joh 4:39-54; Ps 87; Spr 27:4-6