Belê in jou huwelik

2024-09-26
Prediker 9:9 NLV

Dis interessant om te sien hoeveel van ons gewillig is om in ons opvoeding, loopbaan en finansiële toekoms te belê, maar nie in ons huwelik nie. Een van die hoofoorsake van egskeiding is verveling.

Een dominee verduidelik: ‘Eggenote verloor hulle fokus, dwaal af en pleeg egbreuk, raak aan pornografie verslaaf of stel ander vernietigende gedrag ten toon. Die geheim tot ‘n sterk huwelik is om aan te hou om maniere te vind om jouself te verbeter en met mekaar te deel. Dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n boek of artikel te lees en iets interessants wat jy raakgelees het te deel, of om ‘n kursus te loop en dit wat jy geleer het by die huis aan te wend. Dit kan wees om te leer oor jou eggenoot se beroepsveld en belang te stel in dit wat hy/sy heeldag doen.

Eggenote wat wil aanhou groei as ‘n paartjie, het ook lewens van hul eie buite die huwelik nodig. Stokperdjies, belangstellings en gepaste vriendskappe buite die huwelik maak elke eggenoot meer interessant en stimulerend wanneer hulle by die huis kom. Hoe wonderlik is dit nie om saam aan die etenstafel te sit en opwindende dinge wat julle elkeen deur die dag ontdek het, met mekaar te deel nie.

Daar is egter ‘n balans wat gehandhaaf moet word wanneer jy jou eie lewe ontwikkel, sonder om die lewe wat julle saam het te ignoreer. Lank nadat fisiese aantrekkingskrag en die intensiteit van seksuele aantrekkingskrag vervaag het, nadat die kinders groot is en op hulle eie bly, sal jy en jou maat sterk verbintenisse wil hê sodat julle kan aanhou groei en die lewe saam kan geniet.’

Belê dus in jou huwelik.

Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 23:35-43; Ps 54; Spr 25:1-3