Ankers vir jou siel (1)

2024-09-14
Handelinge 27:23-24 NLV

Toe almal anders op Paulus se skip paniekerig geraak het, het hy kalm gebly. Hoekom? As gevolg van drie waarhede wat as ankers vir jou siel kan dien; waarhede waarop jy jou lewe kan bou en wat jou in die storm veilig sal hou. Kom ons kyk na hierdie ankers. Eerstens, word deur God se teenwoordigheid geanker. In die middel van die storm het Paulus aangekondig: “Verlede nag het daar ‘n engel van die God aan wie ek behoort en wie ek dien, langs my gestaan en gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus…'”

Die lewe se storms kan ons nooit vir God verberg nie. Selfs wanneer ons Hom nie sien nie, sien Hy ons. Ons mag dalk voel dat Hy ‘n miljoen myle weg is, maar Hy is met ons en sorg vir ons. God het ‘n persoonlike boodskapper, ‘n engel, gestuur om vir Paulus te sê: ‘Ek is by jou. Ek sien jou in daardie klein boot op die Middellandse See.’

God is by jou in die storm waardeur jy vandag gaan en indien jy versekering van sy teenwoordigheid nodig het, mediteer op die volgende Skrifgedeeltes en staan op hulle: “‘Want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn. Maar my liefde vir jou sal nooit verander nie, en my verbond van vrede sal nooit gebreek word nie,’ sê die Here wat jou liefhet” (Jesaja 54:10 NLV). ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV). ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Anker jou siel dus vandag aan God se Woord en moet niks toelaat om jou te beweeg nie.

Sielskos: Neh 5-7; Luk 21:25-38; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35