Neem ‘n geloofsgebaseerde risiko (3)
2024-09-04Matteus 16:18 NLV
Hekke is verdedigingstoestelle en om hierdie hekke te bestorm, verg aanvallende maatreëls. Dink aan die kerk as ‘n stormram. In plaas daarvan om oor die kultuur te kla, moet ons beter opsies aanbied. Ons moet hoë kaliber rolprente produseer en buitengewone musiek komponeer, meer noemenswaardige boeke skryf en beter skole en besighede begin. Die ou spreuk dui aan dat ons moet ophou om die duisternis te vervloek en begin om ‘n paar kerse aan te steek.
Robert Briner skryf in Roaring Lambs: ‘Waarom kan ons nie glo dat die mees bekroonde regisseur in Hollywood eendag ‘n aktiewe Christelike lidmaat in sy kerk gaan wees nie? Hoekom nie hoop dat die Pulitzer-prys vir ondersoekende beriggewing aan ‘n Christelike joernalis by ‘n groot dagblad toegeken gaan word nie? Is dit regtig te vergesog om te dink dat ‘n groot uitstalling by die Museum van Moderne Kuns die werke van ‘n kunstenaar by een van ons goeie Christelike kolleges kan vertoon? Is ek mal om voor te stel dat jou seun of dogter die hoofdanser vir die Joffrey Ballet Company kan wees en ‘n weeklikse Bybelstudie vir ander dansers lei in wat eens as ‘n beroep wat moreel bankrot is, beskou is?’
Paulus het nie die filosowe in die Areopagusraad gekritiseer en vir hulle gesê dat hulle hel toe gaan nie. Hy het na hulle altaar aan ‘n onbekende god gewys en gesê: ‘Ek het gekom om vir julle te vertel wie hierdie onbekende God is en sy naam is Jesus.’ Wat was die resultaat? “…party het hom uitgelag, maar ander het gesê: ‘Ons wil graag later meer hieroor van jou hoor'” (Handelinge 17:32 NLV). Neem dus ‘n geloofsgebaseerde risiko en kyk wat gebeur.
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Luk 19:28-40; Ps 103:13-22; Spr 23:1-3