God sal jou in die klein dinge toets
2024-06-25Matteus 25:21 NLV
Jou klein dade van goedhartigheid mag dalk ongesiens deur mense verbygaan, maar God sien dit raak. Dink aan Josef. Hy is deur sy broers verraai, sy baas se vrou het oor hom gelieg en hy is tot dertien jaar tronkstraf gevonnis. As daar al ooit iemand met ‘n rede was om suur teenoor God en die lewe te wees, was dit Josef. In plaas daarvan om homself egter te bejammer, het hy daarop gefokus om aan ander mense se behoeftes te voldoen. Josef het twee vriende in die tronk gehad: ‘n skinker en ‘n bakker wat in farao se paleis gewerk het, in onguns verval en in ‘n sel langs Josef beland het. Let op wat die Bybel sê: ‘Die volgende oggend sien Josef dat die twee baie neerslagtig lyk’ (Genesis 40:6 NLV).
Voor God vir Josef toegelaat het om na die nasie van Egipte om te sien, het Hy eers gekyk hoe hy sy medegevangenes versorg. As gevolg hiervan, toe een van Josef se vriende in guns herstel is, het hy Josef by farao as ‘n man wat bekwaam was om in sy behoeftes te voorsien, aanbeveel.
Deernis is vir God belangrik. Wanneer jy ‘n behoefte waarneem, probeer om daaraan te voldoen. As jy daarvan droom om groot dinge te doen, begin om die klein dinge met die regte houding te doen. Daag betyds op. Maak jou werk vroeg klaar. Moenie kla nie. Wanneer jy ‘n taak kry om te doen en dit goed doen, sal God jou daarvoor beloon: “Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!'” (Matteus 25:21 NLV).
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 2:8-20; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7