Vertrou op God se onveranderlike karakter

2024-06-23
Psalm 56:4 NLV

As jy lank genoeg lewe, sal jy slegte nuus ontvang. Dit mag dalk die verlies van ‘n geliefde, jou gesondheid, jou inkomste, jou huwelik, jou reputasie, ensovoorts, wees. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou.’ Wanneer slegte tye kom, moet jy aan alles wat jy weet oor wie God is, vashou. Jy moet jouself daaraan herinner dat Hy liefdevol en barmhartig is en jou volle vertroue verdien. Soms sal God jou die antwoord gee, ander kere sal Hy vir jou die gerusstelling van sy teenwoordigheid gee.

In tye wat verander, moet jy aan die onveranderlike karakter van God vashou. Soos die gesang sê: ‘When all around my soul gives way, He then is all my hope and stay.’ Beteken dit dat jy jou gevoelens en emosies moet onderdruk? Nee. Dawid het gesê: ‘Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge’ (Psalm 142:3 NLV). God vra jou nie om die pyn, verlies en realiteit van jou omstandighede te ontken nie. Self Jesus het: ‘…hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit…’ (Hebreërs 5:7 NLV).

As jy nie jou hart voor God uitstort nie, loop jy die risiko om jou hart teen Hom te verhard. Dis wanneer jy die bodem tref en na God toe draai dat jy ontdek dat Hy reeds daar is. Dit is deur ‘n groot skok te kry wat jy ‘n onwrikbare geloof in God ontwikkel. Wanneer dit gebeur, kan jy op sy Woord staan wat sê: ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan…’ (Genesis 28:15 NLV).

Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-11; Fil 2:5-11