Wees geduldig, God is aan die werk

2024-04-28
Psalm 37:34 NLV

Wanneer dinge nie so vinnig gebeur soos ons dit graag wil hê nie, kan ons angstig, gefrustreerd, geïrriteerd en negatief word. As jy die tipe persoon is wat dinge graag self wil laat gebeur, kan jy voor God uitjaag en in die moeilikheid beland. ‘Danksy die Here stap ‘n jong man met ferm treë; en die Here is tevrede met sy lewenspad.’ (Psalm 37:23 AFR20).

Dink daaroor: As jy die Here volg, kan jy nie vinniger as die Een wat lei beweeg nie. Neem dus net die volgende tree en vertrou Hom om dinge vir jou te laat uitwerk. God weet wat jy nie weet nie. Jy werk met beperkte kennis. Glo jy dat die Here jou treë rig? Glo jy dat Hy ‘n plan vir jou lewe het? Glo jy dat Hy vir jou omgee en jou beste belange op die hart dra? Indien jy dit glo, staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Jy moet glo dat die Here sal doen wat Hy belowe en jy moet lewe soos Hy wil hê. Dan sal Hy jou die hoof van die land laat word…’ (Psalm 37:34 ABA). God weet wat Hy doen. Hy werk volgens sy skedule, nie ons s’n nie.

Ongeduld is ‘n teken van twee dinge: 1) Onvolwassenheid. Babas huil totdat jy hulle optel en kinders wil nie vir enigiets wag nie. ‘n Wyse ouer weet egter dat die kind dikwels nie gereed is om dit wat hulle wil hê, te kan hanteer nie. 2) Twyfel en ongeloof. ‘Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het’ (Hebreërs 10:36 NLV).

Sielskos: Gal 5:22; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32; Gen 50:15-21