Moeg om ‘in nederlaag’ te lewe?
2024-04-23Johannes 15:3 NLV
God se Woord is soos ‘n voorskrif van jou dokter. Jy hoef nie te verstaan hoe die medikasie werk nie – jy moet dit net getrou aanhou neem. Iets wonderbaarliks gebeur wanneer jy gereeld God se Woord inneem. Versoeking begin sy krag verloor en oorwinning begin sy plek inneem. Elke keer wat ‘n Skrifgedeelte oopgaan en vir jou ‘n realiteit word, verhoog jou begeerte na God se Woord. Dit beteken egter dat jy jou Bybel moet lees selfs wanneer jy nie lus het nie, of dink dat jy nie tyd daarvoor het nie, of voel dat jy nie veel daaruit kry nie.
Die Bybel sê: ‘Reën en sneeu kom uit die hemel, en dit gaan nie daarheen terug nie. Dit maak die aarde nat om die plante te laat bot en vrugte te laat dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:10-11 NLV).
Wanneer jy die Bybel lees, sal dit jou van sonde weerhou en wanneer jy sondig, sal dit jou van God se Woord weerhou. Na sy owerspel met Batseba, het Dawid geskryf: ‘Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie’ (Psalm 119:11 NLV). Jesus het gesê: ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het.’ Is jy moeg daarvoor om in nederlaag te lewe? Reinig dan jou gedagtes elke dag met God se Woord. Laat dit oor jou vloei totdat elke oorblyfsel van sonde en vleeslikheid weggewas is.
Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32