God weet wat die beste vir jou is
2024-04-22Spreuke 19:21 NLV
Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat die duiwel in die detail is. Vir ‘n verloste kind van God, is Hy egter in die detail! Wanneer jy jou hart op iets sit en dit gebeur nie, is dit menslik om teleurgesteld te voel. Jy moet die volgende in sulke oomblikke in gedagte hou:
1) Jy werk altyd met beperkte informasie. Jy mag dalk weet wat die eindresultaat is wat jy begeer, maar God weet wat die beste vir jou is en beplan daarvolgens. ‘Ek is God… Ek maak die einde bekend vanaf die begin… Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil, doen Ek’ (Jesaja 46:9-10 NLV).
2) Om buite God se wil te probeer werk, is soos om ‘n gat met ‘n vurk deur ‘n soliede muur te probeer grawe. Jy grawe jouself in ‘n tronk in wanneer jy daarop aandring om te kry wat jy wil hê. Wil jy regtig ‘n plan uitvoer wat God nie goedgekeur het nie? Kan jy op Hom staatmaak om te weet wat die beste vir jou is? ‘Die Here die Almagtige het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?’ (Jesaja 14:27 NLV).
Dis beter om tydelik teleurgesteld te wees as om met iets wat jy nie kan hanteer nie, op te eindig. Israel se verhaal is as volg: ‘Uit die vyand se mag het Hy hulle gered… Toe eers het Israel sy beloftes geglo en het hulle sy lof besing. Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie… In die wildernis het hulle God se geduld beproef. Hy het gegee wat hulle gevra het, maar ook ‘n ongeneeslike siekte’ (Psalm 106:10, 12-15 NLV). Vertrou op God en Hy sal vir jou die beste gee.
Sielskos: Hand 10-11; Mark 4:1-9; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29