Die breekproses (1)

2024-02-17
Psalm 51:19 NLV

Gebrokenheid is die proses waardeur God ons van trots en selfgenoegsaamheid stroop sodat die karakter van Christus kan skyn. Gebrokenheid beteken nie noodwendig dat jy ‘n tragedie beleef het nie. Baie mense ervaar tragedies sonder om nader aan God te beweeg. Die kwessie van gebrokenheid is nie soseer jou omstandighede nie, maar jou reaksie. Wat probeer God vir jou leer?

Gebrokenheid is wanneer God jou van jou selfgenoegsaamheid tot so ‘n mate stroop dat jy geen krag oor het om jouself weer reg te maak nie. Wanneer Hy elke pad wat jy probeer neem blokkeer en jy tot die besef kom dat Hy alleenlik die antwoord is, maak jy ‘n lewensveranderende ontdekking. Wanneer God al is wat jy het, is God al wat jy nodig het! Die waarheid is dat God se krag vir diegene wat opgehou het om dit in hulle eie krag te doen of om dit vir hulle eie doeleindes te probeer bereik, voorbehou word.

Let die woorde: ‘Die offer wat U wil hê, o God…,’ op. ‘n Offer beteken dat iets op ‘n altaar moet sterf. As jy dus ‘n nuwe vlak van God se genade en krag in jou lewe wil ervaar, moet jy gewillig wees om in selfbelang, ego en onafhanklikheid te sterf. Vir ‘n plant om deur die grond te groei, moet die saad gebreek word. Vir ‘n kuiken om die lewe te ervaar, moet die dop gebreek word. Vir ‘n volbloedperd om te wen, moet sy wil gebreek en ingespan word.

Na ‘n ontmoeting met Christus op die Damaskuspad waar hy gebreek is, het Paulus gebid: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Is jy vandag in die breekproses? Hier is jou opsies: 1) teenstand, 2) weghardloop, of 3) reageer en sê: ‘Ja, Here.’

Sielskos: Heb 5-8; Matt 13:47-58; Ps 149; Spr 4:25-27