Wie is jou ware vriende?
2024-02-05Spreuke 18:24 NLV
Cicero het gesê: ‘Vriendskap verbeter geluk en verlig ellende deur die verdubbeling van ons vreugde en die verdeling van ons hartseer.’ Die feit is dat dit onmoontlik is om meer as ‘n paar nabye vriende te hê, omdat ware vriendskap tyd, aandag en toewyding verg. ‘Vriende kan mekaar verwoes. Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer’ (vers 24 NLV). Die kenmerke van ware vriendskap sluit die volgende in:
1) Vertroue. Ralph Waldo Emerson het geskryf: ‘Die heerlikheid van vriendskap is nie in die uitgestrekte hand, die vriendelike glimlag of die vreugde van geselskap nie; dit is die geestelike inspirasie wat ‘n mens kry wanneer hy ontdek dat iemand anders in hom glo en bereid is om hom te vertrou.’
2) Gee en ontvang. Soms sal een persoon die primêre gewer wees en soms die ander. Ware vriendskap is egter altyd tweesydig.
3) Gedeelde lewens. Helen Keller het gesê: ‘My vriende het die storie van my lewe gemaak. Op ‘n duisend maniere het hulle my beperkings in pragtige voorregte verander en my in staat gestel om rustig en gelukkig in die skaduwee wat deur my ontbering gegooi word, te loop.’
4) Wedersydse genot. In ‘n ware vriendskap bestee jy tyd saam, net vir die vreugde daarvan. Wat julle doen is nie noodwendig van belang nie. Ongelukkig laat die besige lewe ons vergeet watter vreugde dit kan wees.
5) Respek vir mekaar. Hoe bou mens respek? Deur nie toe te laat dat struikelblokke of omstandighede belangriker as die verhouding word nie. Wanneer julle onder druk verkeer, hou julle aan om mekaar met geduld en vriendelikheid te behandel. Wanneer die verhouding sukkel, werk daaraan om dit te behou.
Sielskos: Num 19-21;Matt 11:10-19; Ps 111; Spr 3:29-30