Moet nooit ophou leer en groei nie (2)

2024-02-04
Spreuke 8:11 NLV

Om aan te hou leer en groei, moet jy die volgende oplet: 1) Suksesvolle mense leer anders as onsuksesvolle mense. Josua het by Moses geleer. Timoteus het by Paulus geleer. Wie het jy gekies om by te leer? Sidney J. Harris het geskryf: “‘n Wenner weet hoeveel hy nog moet leer, selfs wanneer ander mense hom as ‘n kenner ag. ‘n Verloorder wil as ‘n kenner gesien word voordat hy genoeg geleer het om te weet hoe min hy in werklikheid weet.” Dit is alles ‘n kwessie van gesindheid. Dit is werklik merkwaardig hoeveel ‘n persoon moet leer voordat hy of sy besef hoe min hulle weet.

2) Niks is interessant as jy nie geïnteresseerd is nie. Philip B. Cosby skryf in Quality is Free: ‘Daar is ‘n teorie oor menslike gedrag wat sê dat mense hul eie intellektuele groei onbewustelik vertraag. Hulle maak staat op clichés en gewoontes. Sodra hulle die ouderdom bereik waar hulle gemaklik met die wêreld is, hou hulle op leer en begin hulle gedagtes stilstaan. Hulle mag dalk bevorder word, hulle kan ambisieus en gretig wees en hulle kan selfs dag en nag werk. Maar hulle leer nie meer nie.’

Die Bybel sê: ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem…’ (Lukas 2:52 NLV). Hy het nie net fisies gegroei nie; Hy het geestelik, verstandelik en emosioneel gegroei. Dis ‘n tragedie as jy jouself in ‘n groef laat verval en nooit daaruit kom nie; jy loop die beste wat God het om te bied, mis. Daarenteen is onderrigbare mense heeltemal by die lewe betrokke. Hulle is entoesiasties oor dinge. Hulle stel daarin belang om te ontdek, te bespreek, toe te pas en te vergroot. Moet dus nooit ophou leer en groei nie!

Sielskos: Eks 20:12; Jer 35:1-19; Spr 1:8; Joh 19:25-26