Moet nooit ophou leer en groei nie (1)
2024-02-03Prediker 2:13 NLV
Die belangrikste vaardigheid wat jy kan kweek is om aan te hou leer. Talentvolle mense kan soms optree asof hulle alles weet, wat dit vir hulle moeilik maak om aan te hou groei. Onderrigbaarheid gaan nie soseer oor bekwaamheid en verstandelike kapasiteit as oor jou houding nie; dit is ‘n ingebore honger om te groei. Die bekende voetbalafrigter, John Wooden, het gesê: ‘Dis wat jy leer nadat jy alles weet wat saak maak.’ Jy kan slegs deur onderrigbaar te bly aanhou groei en aanhou om ‘n impak op die wêreld rondom jou te maak. Lewenslange onderrig is ‘n voortdurende daaglikse aktiwiteit.
Die Romeinse geleerde Cato het op tagtigjarige ouderdom begin om Grieks te leer. Toe iemand hom vra hoekom hy so ‘n moeilike taak op sy ouderdom aanpak, het hy geantwoord: ‘Dis die vroegste ouderdom wat ek oorhet.’ Anders as Cato, sien baie van ons onderrig as ‘n gebeurtenis, in plaas van ‘n lewenslange proses. Daar word geskat dat slegs een-derde van alle volwassenes ‘n hele boek lees nadat hulle die skool verlaat het. Hoekom? Omdat hulle onderrig as ‘n fase en nie as ‘n manier van lewe sien nie.
Die wetenskap bevestig dat alhoewel jou fisiese liggaam kan wegkwyn, jou verstand baie van sy kapasiteit vir voortgesette groei behou. Elke stadium van die lewe verteenwoordig lesse wat geleer moet word. Jy kan kies om onderrigbaar te wees en aan te hou leer, of jy kan kies om jou gedagtes te sluit en op te hou groei. Probeer hierdie eenvoudige eksperiment vir ‘n week: vra ander vir hul raad en weerhou doelbewus die raad wat jy normaalweg sou gee. Skryf aan die einde van elke dag neer wat jy geleer het deur oplettend te wees. Jy sal verbaas wees!
Sielskos: Num 16-18; Matt 11:1-9; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28