Koester jou kinders
2024-02-01Psalm 127:3 NLV
‘n Christelike sielkundige skryf: “‘n Paar maande terug het ek met ‘n man gesels wat een van die pynlikste ervarings van sy lewe beskryf het. Toe hy sewentien was, was hy een van die sterre van sy hoërskool se voetbalspan. Sy pa, ‘n baie suksesvolle sakeman, was egter altyd te besig om sy wedstryde by te woon. Die finale wedstryd van die seisoen, wat ook die staatskampioenskap was, het vinnig nader gekom. Die seun was desperaat om sy pa daar te hê. Die aand van die groot wedstryd was hy op die veld besig om op te warm, toe hy opkyk net om te sien hoe sy pa, saam met twee ander sakemanne, die stadium binnekom. Hulle het vir ‘n oomblik of twee gestaan en gesels en toe weer geloop.
Die man wat hierdie verhaal vir my vertel het, is nou agt-en-vyftig jaar oud en tog het die trane oor sy wange gestroom terwyl hy daardie oomblik van jare gelede herleef het. Dis veertig jaar later en tog is die verwerping en pyn so helder as ooit.
Ek was weer eens diep getref oor die invloed wat ‘n pa in die lewe van sy kinders het. Wanneer hy onbetrokke is, wanneer hy nie liefde of omgee aan hulle wys nie, skep dit ‘n vakuum wat dekades lank weergalm. My vriend se pa het onlangs gesterf. Soos hy by sy pa se liggaam in die lykshuis gestaan het, het hy gesê: ‘Pa, ek het jou nooit regtig geken nie. Ons kon soveel liefde gedeel het – maar jy het nooit vir my tyd gehad nie.'”
Ma, Pa, jou kinders is ‘n ‘gawe’ van God. Koester en geniet hulle.
Sielskos: Num 11-13; Matt 10:21-31; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24