‘Net soos ek is’

2024-01-27
1 Korintiërs 15:10 NLV

Daar is ‘n verhaal oor ‘n seun wat met ‘n dooie rot in sy hand by die huis kom en nie weet dat die pastoor by sy ma huisbesoek doen nie. Opgewonde begin hy vertel: ‘Ma, Ma sal nooit raai wat gebeur het nie. Daar het ‘n rot in die motorhuis rondgehardloop. Ek het dit gesien en hom toe met ‘n klip gegooi en hom geslaan. Hy het net daar gelê, so toe het ek op hom getrap. Toe tel ek hom op en gooi hom teen die muur.’ Dan eers sien hy die pastoor en die moordende uitdrukking op sy ma gesig raak. Dus hou hy die rot op en voeg in ‘n vroom stem by: ‘En toe het die liewe Here hom huis toe geroep.’

Ons hoef nie vroom praatjies voor God te maak nie. Ons kan ons maskers afhaal en weet dat God ons ten spyte van ons probleme liefhet. As daar ‘n kerk was waarheen mense al hul ware bagasie en gebrokenheid kon bring, waar almal hulself kon wees en geliefd was, sou daar nie genoeg plek vir al die mense in die gebou gewees het nie.

Paulus self het vertel van die tye wanneer hy goed wou doen, maar sy menslike natuur eerder oorgeneem het. Hy het egter geweier om tou op te gooi, omdat hy besef het dat hy nog steeds moes groei. ‘Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ‘n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie…’ (verse 9-10 NLV).

Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 9:14-26; Ps 104:1-23; Spr 3:9-10