Onsekerheid in leierskap
2024-01-26Johannes 12:43 NLV
Die Bybel sê: ‘Nietemin het baie uit die geledere van die leierfigure in Hom begin glo, maar vanweë die Fariseërs het hulle dit nie in die openbaar bely nie sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Hulle het die verering deur mense liewer gehad as die verering deur God’ (verse 42-43 NLV).
Hoe seker is jy van jouself as leier? Wanneer iemand anders ‘n goeie idee het, ondersteun jy dit of probeer jy dit onderdruk? Vier jy ander mense se suksesse of voel jy bedreig daardeur? As jy idees probeer onderdruk of bedreig voel, het jy ‘n probleem met onsekerheid en moet jy dit hanteer sodat jy ten volle sukses in jou Goddelike roeping kan behaal. Let die volgende op:
1) Onsekere leiers veroorsaak onsekerheid in ander. Jy kan nie gee wat jy nie het nie. Sonder selfversekerheid, kan jy nie ander versekerd laat voel nie. Om ‘n effektiewe leier te wees, die tipe wat ander mense wil volg, moet jy die mense rondom jou goed oor hulself laat voel.
2) Onsekere leiers neem meer van mense as wat hulle gee. Hulle is konstant op soek na erkenning, validasie en liefde. Hulle aandag is daarop om sekuriteit te kry en nie om dit aan ander te voorsien nie.
3) Onsekere leiers beperk aanhoudend hulle beste mense. Hulle gaar mag op. Hoe beter hulle volgelinge is, hoe meer bedreig voel hulle en hoe harder werk hulle om hul volgelinge se sukses en erkenning te beperk.
As hierdie dinge jou beskryf, lees die volgende: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (Romeine 12:10 NLV).
Sielskos: Num 1-2; Matt 9:1-13; Ps 100; Spr 3:7-8