Stop en vra vir aanwysings

2024-01-16
Johannes 16:13 NLV

Om besluite te neem sonder om God se leiding te soek is soos om sonder ‘n radar of kompas te vlieg. Jy kan doen wat volgens jou kennis en ervaring vir jou sin maak, maar dit wat ‘reg lyk’ kan op die ou einde dit wat die belangrikste vir jou is, vernietig. Die Bybel sê dat selfs die mees diepgaande menslike denke vir God dwaas is (sien 1 Korintiërs 1:18-20). Hy alleen ken die pad en Hy wil vooruit loop.

Dis ‘n fout om te aanvaar dat elke geleentheid wat oor jou pad kom, van God af kom. Paulus sê: ‘…Die Satan self gee immers voor dat hy ‘n engel van die lig is’ (2 Korintiërs 11:14 NLV). Sy uitnodigings word so verpak dat dit lyk asof hy jou beste belange op die hart dra, maar sy pad lei onvermydelik altyd tot ondergang (sien Johannes 8:44).

God se Woord is ontwerp as ‘…’n lamp vir [jou] voete en ‘n lig op [jou] pad’ (Psalm 119:105 NLV), om jou op regverdige paaie te lei. Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV).

Die waarheid is dat die meeste van ons nie vanself God se wil soek nie. Dis eers wanneer sy Gees in ons harte begin praat dat ons sy wil begin begeer. Neem tyd om die Heilige Gees se leiding te soek. Vertrou Hom. Hy verstaan die nagevolge van jou keuses. Hy sal vir jou die ‘groter prentjie’ wys en jou help om op die regte pad te bly.

Sielskos: Lev 26-27; Matt 6:1-8; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8