Die gawe van belydenis
2024-01-09Efesiërs 5:2 NLV
Geestelike genesing vind plaas wanneer jy jou probleem aan iemand wat volwasse genoeg is om dit te hanteer en toegewyd genoeg is om nie op jou op te gee nie, bely. Wat beteken dit om “‘n lewe van liefde” te leef? a) Om op God se onfeilbare liefde vir jou te vertrou. b) Om sy liefde aan ander mense te betoon. c) Om hulle liefde in ruil daarvoor te kan aanvaar. Eers dan kan jy geestelik heel word.
Jy kan net liefgehê word in die mate waarin jy geken word. Wanneer jy ‘n deel van jou lewe geheim hou, mag ander mense dalk vir jou sê dat hulle vir jou lief is, maar diep binne-in jou dink jy: ‘As jy die hele waarheid oor my geweet het, sou jy nie vir my lief wees nie.’ Dus is jy nie in staat om hulle liefde te ontvang of daardeur versterk te word nie.
Sonde isoleer ons en sonde en isolasie sal ons siel, en selfs ons liggame, siek maak. Belydenis gevolg met gebed en verbinding met mekaar en met God, nooi die Gees binne en bevorder genesing. Om ten volle geken en liefgehê te word is die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee. Die Bybel sê: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
Een Bybelonderwyser sê: ‘Wanneer ons onsself eerlik afvra watter persoon in ons lewens die meeste vir ons beteken, vind ons dikwels dat dit diegene is wat in plaas daarvan om raad, oplossings of genesing te gee, verkies om eerder ons pyn te deel en ons wonde met ‘n warm en teer hand aan te raak.’
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 4:1-11; Ps 42:6-11; Spr 1:24-28