Jy is ‘n spieël

2023-04-15
2 Korintiërs 3:18 NLV

Soos die ou gesegde lui – jy word aan jou vriende geken. Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (vers 18 NLV).

Hoe meer tyd jy in God se teenwoordigheid bestee, hoe meer sal jy sy ewebeeld weerspieël en sy teenwoordigheid met jou saamdra. Die Bybel sê vir ons dat nadat Moses veertig dae op ‘n berg in God se teenwoordigheid deurgebring het, kon die Israeliete nie na sy gesig kyk nie, omdat die heerlikheid van die Here daarop gereflekteer was (sien Eksodus 34:29). Moses het al meer soos God geword, namate hy al hoe meer tyd in sy teenwoordigheid deurgebring het.

Die Bybel sê: ‘Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God’ (1 Korintiërs 10:31 NLV). Dit beteken dat jy altyd ‘n spieël is, maak nie saak wat jy doen nie! Jesus het gesê: ‘Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!’ (Matteus 5:16 NLV). Met ander woorde, mense moet na jou kyk en God wat binne-in jou woon, kan sien. Dit moet die geval by die huis, by die werk, wanneer jy ontspan en enige ander plek waar jy jouself mag bevind, wees.

Sielskos: Lev 26-27; Matt 1:1-6; Ps 32; Spr 10:4-7