Hoe kon Hy dit doen?

2023-04-07
Romeine 5:8 NLV

As jy al Schindler’s List gekyk het, het jy seker na die tyd gevra: ‘Hoe kon hulle dit gedoen het?’ Die storte… die oonde… die skoorstene wat menslike oorskot uitrook. Treine wat daagliks met moeders, vaders, kinders en bejaardes opdaag – soos beeste op pad na ‘n slagplaas. Die ergste van alles – soldate wat bevele uitvoer sonder om ‘n oog te knip. Hoe kon hulle dit doen?

Die antwoord is sonde! As jy dink dat slegs Hitler en sy trawante ‘n monopolie op sonde besit, dink weer! Dawid het gesê: ‘Want ek is as sondaar gebore en was dit voor my geboorte’ (Psalm 51:7 NLV). Sy eie ongure hoofstuk van owerspel en moord bevestig dit.

Lees die volgende opsomming wat ons almal beskryf: ‘Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ‘n enkele een nie. Hulle kele is ‘n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs’ (Romeine 3:12-14 DB).

Jy moet dit verstaan sodat jy die volgende kan waardeer: ‘God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees, verander die vraag na: ‘Hoe kon Hy dit doen?’ Dank God dat ons nie die straf kry wat ons verdien nie. Ons het egter gekry wat ons nodig het – genade!

William R. Newell het geskryf: ‘Oh, the love that drew salvation’s plan! Oh, the grace that brought it down to man! Oh, the mighty gulf that God did span at Calvary!’ Neem vandag ‘n oomblik en dank God vir die genade wat jou verlos het. Dis waaroor Goeie Vrydag gaan.

Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53