Vereenvoudig jou lewe
2023-04-05Matteus 11:28 NLV
Die gemiddelde kantoorwerker word elke dag met meer as tweehonderd boodskappe via e-pos, sms, Twitter en blogs gebombardeer. Een uit drie bestuurders raak inderwaarheid as gevolg van inligting-oorlading siek. Dit laat mens wonder – as tegnologie ons al hierdie tyd en energie spaar, hoekom is ons so kapot? Sukses bied meer geleenthede vir die Vyand om jou in die grond in te dryf.
Dis nie ‘n lewe nie en dit is vir seker nie God se wil vir jou lewe nie. Moenie wag tot jy die bodem tref, afgedank word, jou lewe weggooi of jou familie verloor nie. Moenie wag tot jy te oud, te lendelam of te verknog aan jou leefwyse is nie. Vandag sê Jesus vir jou: ‘Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik… Kom leer van My…’ (Matteus 11:28-29 NLV).
Die leierskapskundige en christelike skrywer, Phil Cooke, sê: ‘Die Here sal nie die druk verlig terwyl jy op die verkeerde plek en tyd is, terwyl jy die verkeerde dinge saam met die verkeerde mense doen nie. As jy die korporatiewe leer uitklim en jou gesin afskeep, is jou prioriteite verkeerd. Wanneer jy in God se wil is, kan jy hard werk maar lig reis! Hy sal jou laste dra en die gewig op Homself neem. Om jou lewe te vereenvoudig beteken dat jy minder ure werk, tyd vir ontspanning maak en meer in jou geliefdes belê. Markte, opdragte, persoonlikhede en situasies verskil, maar hierdie beginsels is vir almal waar.’
Die woord vir jou vandag is dus – vereenvoudig jou lewe.
Sielskos: Eks 12:1-14; Matt 26:1-29; Ps 49:1; 1 Kor 11:20-34