Bewaak hierdie areas van kwesbaarheid

2023-04-04
1 Korintiërs 10:12 NLV

Hier is drie areas waarin ons veral kwesbaar is:

1) Moedeloosheid. In ‘n oomblik van moedeloosheid het Petrus Jesus verloën. Moedeloosheid laat jou dinge sê wat jy nie bedoel nie en dinge doen wat buite jou karakter is. Dis hoekom Judas skryf: ‘…Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees. Hou julle liefdesband met God in stand…’ (Judas verse 20-21 NLV).

2) Opwinding. Herodus het opgewonde geraak en ‘n aanbod gemaak waaroor hy baie spyt was: ‘…Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee…’ (Markus 6:23 NLV). Die meisie het vir Johannes die Doper se kop gevra en omdat Herodus ‘n koning was, kon hy nie sy belofte terugtrek nie. Wees versigtig wanneer jy opwinding opsoek en hoe jy reageer wanneer jy dit vind. ‘As ons natuurlike geneigdheid eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie…’ (Jakobus 1:15-16 NLV).

3) Moegheid. In die Ou Testament het ‘n ‘geboortereg’ beteken dat die oudste seun twee keer meer van sy vader se boedel erf. Normaalweg sou Esau dit nie oorweeg het om sy geboortereg te verkoop nie, maar hy was doodmoeg toe hy dit gedoen het (sien Genesis 25:29-34). Moegheid kan veroorsaak dat jy perspektief verloor en besluite maak volgens dit wat op die oomblik reg voel, in plaas daarvan wat in die langtermyn vir jou goed gaan wees.

Die Bybel sê: ‘Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ‘n voorbeeld vir ons… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Bewaak dus hierdie drie areas van kwesbaarheid.

Sielskos: Lev 5-7; Luk 23:1-12; Ps 18:30-50; Spr 9:7-9