Die vreugdes van die hemel (2)

2023-03-27
Openbaring 21:16 NLV

Die volgende keer wat jy ingeperk voel, lees die volgende: ‘Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. [Die engel] het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – meer as 2 200 kilometer’ (vers 16 NLV). Dit is meer as vier miljoen vierkante kilometer – wat die nuwe Jerusalem groter as Texas maak. Dis amper vier keer groter as Alaska en meer as helfte die grootte van die hele Amerika! So ‘n groot stad sal allesbehalwe oorvol en ongemaklik wees. Nog wonderbaarliker as dit: Die stad sal 2 200 kilometer hoog wees! Daar sal nie ‘n beperking aan spasie wees nie. Dit bevestig wat Jesus oor die hemel gesê het: ‘In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers… Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak’ (Johannes 14:2 NLV).

Aangesien dieselfde God wat die aarde geskep het ook die hemel ontwerp het en aangesien Paulus gesê het dat die hemel ‘…verreweg die beste…’ (Filippense 1:23 NLV) sal wees, dink aan die mooiste plek wat jy al ooit besoek het en vermenigvuldig daardie beeld met ‘n oneindige getal. Johannes het die hemel as volg beskryf: ‘Die stad… het gestraal, net soos ‘n baie kosbare steen, soos ‘n kristalhelder jaspis’ (Openbaring 21:12 NLV). Een nag het ‘n klein seuntjie saam met sy pa na die sterre gekyk en gevra: ‘As die verkeerde kant van die hemel so mooi is, hoe moet die regte kant dan lyk?’

Jesus het gesterf sodat jy hemel toe kan gaan. Jy gaan egter nie per ongeluk soontoe nie, maar deur ‘n keuse wat jy moet maak. Het jy dus al jou vertroue in Christus geplaas om jou Redder te wees? As jy het, sien jou daar!

Sielskos: Job 29-31; Luk 21:12-24; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26