Stappe na vergifnis (2)

2023-03-25
Lukas 6:37 NLV

Hier is nog drie stappe na vergifnis: 1) Aanvaar mense soos hulle is en moet hulle nie probeer verander nie. Dit hou jou net aan hulle vasgeketting, terwyl jy jouself kwel oor wat hulle gedoen het en eis dat hulle op maniere wat jy goedkeur, moet optree. Niks maak mense minder gewillig om te verander as wanneer jy hulle probeer beheer en eis dat hulle aan jou vereistes moet voldoen nie. Om mense te verander is nie jou werk nie – dis God s’n! Jou werk is om te kies om te vergewe en die uitkoms in God se hande te los.

2) Sien jou oortreder as God se instrument vir jou groei. Dis makliker om iemand te vergewe wanneer jy ophou om hulle as Satan se agent wat gestuur is om jou te vernietig te sien en hulle as God se instrument om jou te ontwikkel, begin sien. Josef se lewe is ‘n sprekende bewys van hierdie beginsel. Die pad wat hom van die put tot die paleis geneem het, was met onreg, teleurstelling en verraad geteer. God het egter elke pynlike gebeurtenis gebruik om hom by sy lotsbestemming uit te bring. God kan dieselfde vir jou doen.

3) Probeer om met jou oortreder te versoen. Versoening is in God se aard. ‘Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is…’ (Romeine 5:10 AFR83). Wat God vir jou gedoen het, wil Hy hê moet jy aan die een wat teenoor jou oortree het, doen. Jesus het versoening ‘n hoofprioriteit gemaak deur te sê: ‘los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede… Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:24 NLV). Ja, dit sal onbaatsugtigheid en nederigheid van jou kant af verg, maar die opbrengs is die belegging werd!

Sielskos: Job 24-28; Luk 21:1-11; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23